
Voorwoord: Ons Hoof
N.C. Roesch · Hoof · bladsy 4
Waar georganiseerde onderwys in Transvaal nou die eeukerf bereik het, is dit gepas dat ons jaarblad vanjaar aan die onderwys opgedra word. Aldus bring ons dan ook hulde aan hulle wat sewe-en-vyftig jaar gelede met die moed van hulle oortuiging die „fondamente" van die Afrikaanse Hoër Seunskool gelê het. Hierdie „argitekte" en „boumeesters" het met insig en visie die riglyne vir die toekoms duidelik en koersvas aangedui.
Oor die jare heen het onderwysers en leerlinge gekom en gegaan. Soos water geskep uit 'n poel is hulle weg en die leegte onmiddellik gevul. Maar hulle was hier. Die spoor van hul voet het 'n afdruk gelaat. Hulle het gebou, die troffel neergelê en gegaan. Nou staan ons in hul plek met die troffel in die hand.
In hierdie tyd het ouer en skool mekaar meer nodig as in die aangetekende geskiedenis in hierdie bouproses. Ons het mekaar nodig op 'n basis van volkome onderlinge vertroue en in 'n aanvullende dimensie, nie in 'n onderlinge afskuiwing van verantwoordelikhede op die weg van die minste teenstand nie.
Mag dit dan ook so wees dat ouerhuis en skool in die toekoms steeds, deur die genade van Bo, in staat sal wees om die kind op sy moeilike wordingsweg na volwassenheid te lei. Saam moet ons bou!















